Skotse nasionale vrouerugbyspan
Die Skotse nasionale vrouerugbyspan (Engels: Scotland women’s national rugby union team) is die nasionale vrouerugbyspan wat Skotland in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Skotland deur die Skotse Rugbyunie (Scottish Rugby Union, SRU) geadministreer. Skotland neem jaarliks aan die Sesnasies-vrouetoernooi deel, saam met Engeland, Frankryk, Ierland, Italië en Wallis. Skotland het die kampioenskap reeds een keer gewen, insluitende een Grand Slam, by altesaam 30 toernooie.
| Skotland | ||||
| Unie | Skotse Rugbyunie (SRU) | |||
| Embleem | Dissel | |||
| Stadion | Edinburg-rugbystadion, Edinburg Scotstoun-stadion, Glasgow | |||
| Afrigter(s) | ||||
| Kaptein(s) | Rachel Malcolm | |||
Alt. kleure
| ||||
| Eerste internasionale wedstryd | ||||
(Edinburg, Skotland; 14 Februarie 1993) | ||||
| Grootste oorwinning | ||||
(Enköping, Swede; 17 Mei 2009) | ||||
| Grootste nederlaag | ||||
(Twickenham, Engeland; 13 Maart 2011) | ||||
| Wêreldbeker | ||||
|---|---|---|---|---|
| Verskynings | 7/10 (Eerste in 1994) | |||
| Beste uitslag | Vyfde plek in 1994 | |||
| Unie webwerf | ||||
| www.scottishrugby.org | ||||
Skotland het sy eerste internasionale wedstryd in 1993 tuis gespeel, toe hulle in Edinburg Ierland geklop het. Skotse spelers dra tradisioneel donkerblou truie, wit broeke en blou sokkies – wat aan die kleure van die vlag van Skotland ontleen is. Skotland se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse vrouerugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1991 beslis word. Skotland het tot dusver vir sewe van die tien toernooie gekwalifiseer en slegs die 1991-, 2014 en 2017-toernooie misgeloop; in 1994 het hulle met die vyfde plek hul beste prestasie behaal. Die Skotse vrouerugbyspan is tans (September 2025) sesde op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[1]
Beheerliggaam
wysig- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Skotse Rugbyunie.
Die beheerliggaam vir rugby in Skotland is die Skotse Rugbyunie (Scottish Rugby Union, SRU). Die SRU is in 1873 as Skotse Voetbalunie (Scottish Football Union, SFU) gestig[2] en is naas die Engelse Rugbyvoetbalunie (RFU) die tweede oudste beheerliggaam in die rugbygeskiedenis. In 1886 het die SFU saam met die Ierse Rugbyvoetbalunie (IRFU) en die Walliese Rugbyunie (WRU) die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig.[3] Sedert 1924 dra die Skotse beheerliggaam sy huidige naam. In 1999 het Skotland met die aansluiting van die Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa) by die IRVR ook ’n lid van dié kontinentale beheerliggaam geword.[4] Die belangrikste rugbyliga in Skotland is die Skotse Vrouepremierskap, waaraan sewe spanne deelneem.
Geskiedenis
wysig
Op 14 Februarie 1993 het die Skotte in hul eerste toetswedstryd tuis teen die Ierland gespeel. Vir Ierland was dit ook hul eerste toetswedstryd. Dié wedstryd is op Raeburn Place voor ’n gehoor van meer as 1 000 gehou. Die Skotse afrigter was Sandy Carmichael, terwyl Alain Rolland die Iere afgerig het. Skotland het dié wedstryd met 10–0 gewen ná twee drieë deur hul kaptein Sandra Colamartino. Ierland se eerste kaptein was Jill Henderson. Een jaar later, op 13 Februarie 1994, het Skotland sy eerste wegwedstryd tydens die terugwedstryd op Ravenhill gespeel. Skotland het dié wedstryd met 5–0 gewen.[5][6][7]
In April dieselfde jaar het Skotland as gasvroue vir die Vrouerugbywêreldbeker 1994 oorgeneem en die vyfde plek behaal, gelyk aan hul beste prestasie tydens ’n vrouerugbywêreldbekertoernooi. Sedertdien het die Skotte vir die toernooie in 1998, 2002, 2006, 2010 en 2021 gekwalifiseer.
Die Skotse vrouerugby het sy hoogtepunt op 21 Maart 1998 bereik, toe die span ná ’n 8–5-oorwinning oor Engeland die Tuisnasies met ’n Grand Slam beklink het.
Die Skotse Vrouerugbyunie (Scottish Women's Rugby Union, SWRU) was die beheerliggaam vir vrouerugby in Skotland. Van sy take was jeugwerk tot op nasionale vlak. Tydens die algemene vergadering in Junie 2009 het die SWRU besluit om met die Skotse Rugbyunie (Scottish Rugby Union, SRU) saam te smelt en sedertdien is die SRU ook vir die vrouespan verantwoordelik.
Kleure, embleem en himne
wysig
Die dissel is die nasionale blom van Skotland en ook die embleem van die Skotse nasionale vrouerugbyspan. Volgens ’n legende het die “beskermende dissel” sy rol gespeel tydens die verdediging van Skotland teen ’n snagse aanval deur Noorse Wikings, een van hulle skree van pyn toe hy kaalvoet op ’n dissel trap, wat die Skotse verdedigers waarsku. Die Latynse Nemo me impune lacessit (“Niemand ontlok my ongestraf nie!” in Afrikaans) is ’n antieke leuse van die Skotse monarge, en ook van die voorste ridderorde van Skotland, die oudste en edelste orde van die dissel, en van die Skotswagte (waarvan die twee laasgenoemde aan die monarg “behoort” het).[8]
The Flower of Scotland dien sedert 1990 as Skotland se nieamptelike volkslied. Die teks is in 1967 deur Roy Williamson van die musiekgroep The Corries geskryf, en deur die Skotse Rugbyunie as plaasvervanger vir “God Save the Queen” goedgekeur. Tydens tuiswedstryde op Murrayfield word die opvoering van The Flower of Scotland tradisioneel deur doedelsakke begelei, waardeur ’n unieke atmosfeer geskep word.[9]
Skotland speel tradisioneel in donkerblou truie, wit broeke en blou sokkies, die kleure van die nasionale vlag. As Skotland die tuisspan is en die opponent gewoonlik in donker kleure speel – soos in wedstryde teen Frankryk en Italië – sal Skotland sy alternatiewe trui aantrek. Dit is tradisioneel ’n wit trui met donkerblou broeke en sokkies.
Stadions
wysigNet soos ander vername rugbylande soos Frankryk, Ierland, Italië, Kanada, Nieu-Seeland, Suid-Afrika, die Verenigde State en Wallis beskik Skotland oor geen amptelike tuisstadion vir sy nasionale span nie. Die Skotte gebruik vir hul toetse eerder ’n verskeidenheid stadions dwarsdeur Skotland. Tydens die Sesnasies-vrouetoernooi word veral die Edinburg-rugbystadion in Edinburg en die Scotstoun-stadion in Glasgow gebruik.
Rugbywêreldbekerstadions
wysig- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Vrouerugbywêreldbeker 1994.
Skotland het die Vrouerugbywêreldbeker 1994 aangebied. Vir dié toernooi is ses stadions in Edinburg (twee plekke), Galashiels, Kirkcaldy, Melrose en Milngavie gebruik.
Toetswedstryde
wysigSkotland het 100 van sy 240 toetswedstryde gewen, ’n wenrekord van 41,67%. Skotland se statistieke in toetswedstryde teen al die lande, in alfabetiese volgorde, is soos volg (korrek teen September 2025):
| Opponent | Gespeel | Gewen | Verloor | Gelykop | % Gewen |
|---|---|---|---|---|---|
| 4 | 0 | 4 | 0 | 0,00 | |
| 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 | |
| 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 | |
| 34 | 2 | 32 | 0 | 5,88 | |
| 30 | 5 | 24 | 1 | 16,67 | |
| 35 | 18 | 17 | 0 | 51,42 | |
| 25 | 9 | 15 | 1 | 36,00 | |
| 4 | 3 | 1 | 0 | 75,00 | |
| 7 | 1 | 6 | 0 | 14,29 | |
| 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 | |
| 6 | 5 | 1 | 0 | 83,33 | |
| 4 | 0 | 4 | 0 | 0,00 | |
| 2 | 2 | 0 | 0 | 100,00 | |
| 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 | |
| 24 | 16 | 8 | 0 | 66,67 | |
| 6 | 4 | 2 | 0 | 66,67 | |
| 9 | 9 | 0 | 0 | 100,00 | |
| 7 | 2 | 5 | 0 | 28,57 | |
| 39 | 19 | 20 | 0 | 48,72 | |
| Algeheel | 240 | 100 | 138 | 90 | 41,67 |
Wedywering met ander nasionale spanne
wysigVeral met die nasionale spanne van die naburige Britse Tuisnasies handhaaf die Skotte ’n intensiewe wedywering. Van die 33 toetswedstryde tot dusver teen Engeland het Skotland twee gewen en Engeland 31. Gedurende wêreldbekertoernooie het albei spanne tot dusver twee keer ontmoet (in 1994 en 2025), waarvan Engeland al die wedstryde gewen het.
Naas Engeland is ook Ierland ’n belangrike mededinger.[10] Hierdie wedywering tussen dié twee “Keltiese lande” is gekenmerk deur unieke gebeurtenisse oor dekades heen; ’n bydraende faktor is die wedersydse migrasie in die 19de en 20ste eeu. Skotland en Ierland het tot dusver in 34 toetswedstryde ontmoet, waarvan Skotland 18 gewen het en Ierland 16. Gedurende wêreldbekertoernooie het albei spanne tot dusver drie keer ontmoet (Skild-halfeindstryd 1994, uitspeelhalfeindstryde 2006 en 2010), waarvan Skotland in 1994 en 2006 gewen het en Ierland in 2010.
Rekords
wysigWêreldbekerrekord
wysigSkotland het tot dusver aan sewe vrouerugbywêreldbekertoernooie deelgeneem. Hul beste prestasie was die vyfde plek tydens die 1994-toernooi.
| Jaar | Uitslag |
|---|---|
| 1991 | Nie deelgeneem nie |
| 1994 | Vyfde plek |
| 1998 | Sesde plek |
| 2002 | Sesde plek |
| 2006 | Sesde plek |
| 2010 | Agtste plek |
| 2014 | Nie gekwalifiseer nie |
| 2017 | Nie gekwalifiseer nie |
| 2021 | Groepfase |
| 2025 | Kwarteindrondte |
| 2029 | N.v.t. |
| 2033 | N.v.t. |
Tuisnasies / Vyfnasies / Sesnasies
wysigSkotland se enigste jaarlikse toernooi is die Sesnasies-vrouetoernooi waartydens hulle teen vyf ander Europese lande speel: Engeland, Frankryk, Ierland, Italië en Wallis. Die Sesnasies het begin as die Tuisnasies-toernooi in 1996 met Engeland, Ierland, Skotland en Wallis. Frankryk het in 1999 by die toernooi aangesluit om sodoende die Vyfnasies te vorm, voordat Spanje in 2002 toegetree het en in 2007 met Italië vervang is, waarmee die huidige Sesnasies ontstaan het. Skotland het sy eerste titel in 1998 met ’n Grand Slam gewen, d.w.s. ’n Driekroon (’n oorwinning oor al die ander drie Tuisnasies) saam met ’n oorwinning oor Frankryk gedurende dieselfde toernooi.[11]
- 1 titel (1998)
- 1 Grand Slam (1998)
- 1 Driekroon (1998)
Europese Vrouerugbykampioenskap
wysigSkotland het voorheen aan die Europese Vrouerugbykampioenskap deelgeneem en een toernooi beklink.
- Titeloorwinnings (1): 2001
Spelers
wysigHuidige span
wysigDie volgende spelers het die Skotse span gevorm tydens die Vrouerugbywêreldbeker 2025:[12]
Bekende spelers
wysigTot dusver is nog geen Skotse speler in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem nie.
Sien ook
wysigVerwysings
wysig- ↑ (en) "Women's and Men's Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 15 September 2025.
- ↑ (en) "History". Skotse Rugbyunie. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Oktober 2020. Besoek op 31 Oktober 2020.
- ↑ (en) "Scotland". Wêreldrugby. Besoek op 15 September 2025.
- ↑ (en) "About us". Rugby Europa. 2020. Besoek op 15 September 2025.
- ↑ (en) Lydia Furse (14 Februarie 2018). "Ireland and Scotland celebrate 25 years". Scrum Queens. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Oktober 2020. Besoek op 30 Oktober 2020.
- ↑ (en) Stuart Bathgate (14 Februarie 2018). "Pioneers celebrate 25th anniversary of first Scotland women's international". The Offside Line. Besoek op 17 Junie 2025.
- ↑ (en) "Women's Teams Reunite To Mark 25th Anniversary". Ierse Rugbyvoetbalunie. 14 Februarie 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Maart 2018. Besoek op 15 September 2025.
- ↑ (en) "The Scottish Thistle – Beautifully Bold!". Scottish at Heart. Besoek op 15 September 2025.
- ↑ (en) Steffan Rhys (7 Februarie 2009). "The perfect rugby anthem – Flower of Scotland!". Wales Online. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Februarie 2009. Besoek op 10 Februarie 2009.
- ↑ (en) Tom English (7 Februarie 2019). "Six Nations 2019: Scotland v Ireland – Five reasons behind the 'narkiness' between two nations". BBC. Besoek op 15 September 2025.
- ↑ (en) "Women's Roll Of Honour". Sesnasies-toernooi. Besoek op 15 September 2025.
- ↑ (en) "Scotland squad named for Women's Rugby World Cup 2025". Skotse Rugbyunie. 19 Februarie 2025. Besoek op 15 September 2025.
Eksterne skakels
wysig| Wikimedia Commons bevat media in verband met Skotse nasionale vrouerugbyspan. |