LitNet is ’n Suid-Afrikaanse aanlyn joernaal wat hoofsaaklik Afrikaanse letterkundige, kulturele, opvoedkundige en akademiese inhoud publiseer. Die platform bevat onder meer boekresensies, skrywersonderhoude, oorspronklike skeppende werk, meningsartikels, opvoedkundige materiaal en gesprekke oor aktuele en kulturele onderwerpe.[1]

LitNet
Tipe webwerf
Letterkundige joernaal
Beskikbaar inAfrikaans
EienaarsMedia24
Ligitprops 3042 BK
URLwww.litnet.co.za
RegistrasieOpsioneel
Huidige statusAktief

LitNet se oorspronklike slagspreuk was “Die boekehuis met baie wonings”. Die naam het gedui op die verskillende afdelings of “wonings” waarin skrywers, boeke, lesers, kultuur en openbare gesprekke gehuisves is.[2]

Geskiedenis

wysig

LitNet is deur die skrywer en akademikus Etienne van Heerden bedink. Volgens Van Heerden het hy die idee in 1998 ontwikkel en ’n voorstel vir ’n aanlyn boekjoernaal aan 24.com voorgelê.[3] Die webwerf het op 11 Januarie 1999 aanlyn gegaan, kort nadat News24 sy verskyning gemaak het.[4][2]

Die aanvanklike borge was Kalahari.net en 24.com. LitNet is destyds beskryf as ’n onafhanklike literêre joernaal wat uitsluitlik op die internet beskikbaar was.[2] Die platform is later as ’n gesamentlike onderneming van Ligitprops 3042 BK en Media24 beskryf, met Van Heerden as stigter-redakteur.[5]

LitNet het vroeg reeds die internet as ruimte vir literêre gesprekke en skrywersontwikkeling benut. In 2000 is die eerste Young Voices-aanlynskrywerskonferensie aangebied. Die konferensie van 2004 is in samewerking met die Universiteit van Kaapstad se Skool vir Tale en Letterkundes en Sentrum vir Skeppende Skryfwerk aangebied. Skrywers, uitgewers en redakteurs kon virtuele referate plaas waarop lesers feitlik onmiddellik kon reageer.[6]

LitNet het in Januarie 2024 sy 25ste bestaansjaar gevier.[4]

Inhoud

wysig

Hoewel LitNet hoofsaaklik ’n Afrikaanse platform is, is daar deur die jare ook inhoud in onder meer Engels en Nederlands gepubliseer. Die webwerf het ontwikkel van ’n hoofsaaklik letterkundige joernaal tot ’n breër kulturele en openbare platform. Die inhoud sluit boekresensies, oorspronklike gedigte en verhale, skrywersonderhoude, kuns- en teaterdekking, opvoedkundige hulpbronne, meningsartikels en besprekings van maatskaplike en politieke vraagstukke in.[1][7]

Die webwerf bied ook ruimte vir onderhoude, seminare en openbare gesprekke wat op gepubliseerde akademiese navorsing voortbou. Dit maak navorsingsbevindinge vir ’n breër, nie-akademiese gehoor toeganklik.[8]

LitNet Akademies

wysig

LitNet Akademies is LitNet se geakkrediteerde, ooptoegang- akademiese aanlyn joernaal. Dit publiseer portuurbeoordeelde Afrikaanse navorsingsartikels en het die Internasionale Standaardreeksnommer ISSN 1995-5928.[9]

Die joernaal is op die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding]] se lys van goedgekeurde akademiese tydskrifte. Navorsingsartikels wat die portuurbeoordelingsproses slaag, kan gevolglik as erkende navorsingsuitsette dien.[9] Uitgebreide Engelse opsommings word saam met die Afrikaanse artikels gepubliseer om die navorsing vir ’n groter internasionale gehoor toeganklik te maak.[10]

LitNet Akademies publiseer navorsing in verskeie vakgebiede, waaronder die geesteswetenskappe, godsdienswetenskappe, opvoedkunde, regte, natuurwetenskappe en ekonomiese en bestuurswetenskappe. Die artikels word elektronies gepubliseer en is kosteloos aanlyn beskikbaar.[8][11]

Verwysings

wysig
  1. 1 2 Etienne Van Heerden’s “LitNet” (en). University of Iowa (25 April 2007). URL besoek op 14 Augustus 2026.
  2. 1 2 3 Twintig jaar later. LitNet (4 Januarie 2023). URL besoek op 14 Augustus 2026.
  3. Kernmedewerkers. LitNet. URL besoek op 14 Augustus 2026.
  4. 1 2 Van Heerden, Etienne (10 Januarie 2024). LitNet is 25. LitNet. URL besoek op 14 Augustus 2026.
  5. LitNet Akademies: ’n Joernaal vir die Geesteswetenskappe (en). Sabinet African Journals. URL besoek op 14 Augustus 2026.
  6. Writers keep the words flowing online (en). Universiteit van Kaapstad (15 November 2004). URL besoek op 14 Augustus 2026.
  7. LitNet (en). Encyclopaedia of South African Theatre, Film, Media and Performance. Universiteit Stellenbosch. URL besoek op 14 Augustus 2026.
  8. 1 2 LitNet Akademies: Inligting. LitNet. URL besoek op 14 Augustus 2026.
  9. 1 2 LitNet Akademies (en). Portal for Open Science. Academy of Science of South Africa. URL besoek op 14 Augustus 2026.
  10. Akademiese navorsing. LitNet. URL besoek op 14 Augustus 2026.
  11. LitNet Akademies: Volledige joernaaluitgawes. LitNet. URL besoek op 14 Augustus 2026.

Eksterne skakels

wysig