Die eland (Taurotragus oryx), is 'n wildsbok wat op grasvlaktes in Oos- en Suider-Afrika aangetref word. Die suidelike subspesie (T. o. oryx) staan ook as die Kaapse eland bekend. Saam met die reuse-eland (Taurotragus derbianus) word hulle as die wêreld se grootste antilope beskou.

Eland
Elande by Chudop-watergat in Etosha
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Orde:
Familie:
Subfamilie:
Genus:
Spesie:
T. oryx
Binomiale naam
Taurotragus oryx
verspreiding van subspesies

     T. o. pattersonianus (Lydekker, 1906), Patterson se eland      T. o. livingstonii (Sclater, 1864), Livingstone se eland      T. o. oryx (Pallas, 1766), Kaapse eland

Elandbul in die Nasionale Etoshawildtuin, Namibië
Elande wei in die De Hoop-natuurreservaat, Suid-Afrika.
Elandspoor

Liggaamsbou

wysig

Die eland se skouerhoogte is ongeveer 2 m en hulle weeg van 300 tot 1 000 kg. Elandbulle is gewoonlik donkerbruin of grys, terwyl elandkoeie bruin of ligbruin is. Elande het dikwels ook 'n wit streep vertikaal oor die lyf aan albei kante. Die bul en koei het albei reguit horings wat ongeveer 65 cm lank kan wees. Die koei se horings is gewoonlik langer, maar dunner.

Lewenssiklus

wysig

In die natuur wissel die lewensduur van sowat 15 tot 20 jaar, maar kan ook minder of soveel as 23,5 jaar wees. In gevangenskap kan hulle weens goeie sorg tot 26 jaar oud word. Koeie word tussen 15 en 36 maande geslagsryp, en bulle tussen die ouderdom van 4 en 5 jaar. 'n Enkele kalf word ná 'n draagtyd van nege maande gebore. In die natuur val hulle leeus, gevlekte hiënas en wildehonde ten prooi.

Gewoontes

wysig

Elande is bekend vir hul vermoë om by droë toestande aan te pas, en verkry dikwels die nodige vog uit hul voedsel. Elande vreet gras, takkies en blare. Hulle leef gewoonlik in troppe van 30 tot 80, maar groter troppe van by die 400 is al aangetref. Ten spyte van hul grootte, kan 'n eland sonder 'n aanloop maklik oor 'n heining van 1,5 m spring. Elande kan hulself goed teen roofdiere verdedig en is selfs in staat om 'n leeu dood te maak.

Elandbulle handhaaf 'n streng orde van dominansie wat hul toegang tot die trop se koeie bepaal. In konfrontasies word die gevaarlike horings en hoewe selde gebruik, en hul rangorde word eerder deur 'n nekgestoei besleg. Meeste elandkonflikte word egter vreedsaam deur 'n reeks rituele seine uitgeklaar.[2]

Hieronder tel die unieke knie-klikke wat die bulle se voorbene maak terwyl hulle loop. Dit klink na kastanjette en is honderde meters ver hoorbaar. Die meganiese klikgeluide word as 'n boodskap aan ander bulle beskou, wat deur die toonhoogte daarvan 'n eerlike en akkurate maatstaf van die individuele bul se grootte en vegkrag bied.[2]

Kulturele rol en simboliek

wysig

Elande het deur die geskiedenis 'n diep mistieke, spirituele en kulturele betekenis verkry. Veral onder Sanmense (Boesmans) is dit as 'n heilige dier beskou wat met bonatuurlike krag, of n/um, bedeel is.

Hulle is algemeen in rotskuns uitgebeeld, wat aandui dat hulle beskou is as diere met 'n sterk verbintenis tot 'n ander wêreld. Elandvet is vir die teken van rotskuns gebruik en ook om medisyne mee te maak.

Die vroeëre reisigers na die Kaap het geglo die eland en die eenhoring is verwant, waarskynlik omdat sommige reisigers aangeteken het dat eenhoring-elande in die Kaap voorkom. Daar is ook die geval van 'n horing in die McLeod-kasteel in Skotland wat as die horing van 'n eenhoring bewaar is, maar later as die horing van 'n eland geïdentifiseer is.

Sien ook

wysig

Verwysings

wysig
  1. Mallon, D.P. & Hoffmann, M. (2008). Tragelaphus oryx. 2008 IUBN Rooi Lys van bedreigde spesies. Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur 2008. Verkry op 6 Februarie 2009.
  2. 1 2 Yong, Ed (4 November 2008). "Eland antelopes click their knees to prove their dominance". nationalgeographic.com. National Geographic. Besoek op 12 Maart 2026.

Eksterne skakels

wysig